65+ Funksie - Saterdag, 13 Oktober 2018

Ons jaarlikse 65+ Funksie by Nanaga was weer ‘n heerlike saam kuier geleentheid! So geseënd met soveel wysheid, kundigheid, omgee & liefde, wat diep in Paterson gemeente se hede & erfenis lê!

Damesdag 2018 met Lynette Beer - Seeds of Inspiration ... 'n oggend vir die boeke!! Weet jy wie jy is en ken jy God se droom vir jou lewe of meet jy jouself aan wat ek het, wat ek doen en wie mense sê ek is? Daar is baie gelag, trane weggepik, gesels en heerlik geëet! DANKIE aan elkeen wat bygedra het tot vandag se sielekos-oggend!

Manne Ontbyt 21 Julie 2018

Vandag se manne ontbyt met Marius Kruger was goed vir die siel en liggaam. Dankie vir Coenie, Suzanne en almal wat hulle gehelp het met die saal en heerlike ontbyt!!

Ons is dankbaar vir Marius wat so eerlik en heerlik opreg, kom deel het met ons - al die pad van George af.

Ons het dit goed gedink om ‘n paar goue gedagtes uit Marius se praatjie te deel. Dit is kosbare wyshede wat vlerke moet hê en wyer moet vlieg as net vanoggend se manne ontbyt.

Marius Kruger: “My pa het elke aand huisgodsdiens gehou en ons was Sondae in die kerk en Sondagskool. Ek het gedink dit sou my laat kwalifiseer as Christen. Eers later het ek uitgevind die Here het net kinders, nie kleinkinders nie. Ek kon dus nie staatmaak op die feit dat my ouers Christene was nie.

Hierna het ek ook baie lesse geleer oor geld en beleggings en Rentmeesterskap.
Die Here het my in 2 Sam 24:24 Dawid en Arauna die volgende les geleer. Moenie aan die Here ‘n offer bring wat jou niks kos nie. Hoe lyk jou offer tans? Ek het begin doelwitte stel wat ek wou gee soos wat ek doelwitte gestel het vir ‘n hoeveelheid inkomste per jaar. My begroting het die eerste keer ‘n doelwit ingehad wat ek vir die werk van die Here wou gee.

Weereens het ek geleer dat jy moet diversifiseer. Pred 11: 2 Hou jou besittings op sewe of selfs 8 plekke, want jy weet nie watter teëspoed oor die land kan kom nie.
Wanneer ek terugkyk op my loopbaan sien ek daar was baie tye waar die Here ons beskerm het omdat ons wysheid gekry het tydens ons besluitneming. Spreuke 8: 14 Wie My het , het raad en behaal sukses, ek verleen insig, ek is die een wat die mag gee.
In my werk het ek ook vir my ‘n waardesisteem daar gestel wat op Spreuke gebou is. Spreuke vertel vir ons hoe ons teenoor mense moet optree. Ek moet bely dat ek nie altyd daarby gehou het nie maar dit het my gevorm om ander se belange eerste te plaas . Lees Spreuke 3: 27. Moenie ‘n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie.

Eerlikheid Spr 2: 7 Hy laat eerlike mense sukses behaal en hy beskerm die wat onberispelik lewe.
Ek het agtergekom dat my lewe in my besigheid baie meer eenvoudig en sonder stress was omdat ek die beginsels van die woord begin toepas het.

Ek glo dat alles wat ek het aan my gegee is nie ter wille van myself nie. Nie my gawes, of geld of goeters nie. Ek moet help waar die Here vir my ‘n behoefte wys. Het u al gedink hoeveel vakansiehuise staan leeg die hele jaar deur en hoeveel mense met hulle gesinne nooit op vakansie gaan nie omdat hulle nie die akkomodasie kan bekostig nie. Watter verskil sal dit maak aan die persoon met die huis teenoor wat dit sal beteken vir die gesin wat nooit op vakansie sal kan gaan nie.

Ons moet eerder vir ons kinders ervarings gee as goeters.

Daar is 3 vereistes vir die bou van welvaart
• lewe eenvoudig en spaarsaam > If you buy stuff you do not need, one day you wil have to sell stuff you need.
• Spaar en belê soveel moontlik. 
• Belê wys en lank. 
Daar is ‘n verskil in spaar en belê. Spaar is geld bymekaarmaak terwyl belê is geld meer maak as wat dit nou werd is.
Wanneer ek twyfel of ek die regte besluit neem gaan ek na Kol 3: 15. Verder, laat die vrede wat Christus bewerkhet, in julle lewens die deurslag gee. Die lewende Bybel het dit as volg vertaal. Laat vrede die skeidsregter wees wanneer julle oor iets twyfel.”

(Dankie Egbert & Suzanne vd foto’s)